Murray Gestuurdes van God

Andrew Kok

In Julie 1822 het Andrew Murray uit Skotland in die Kaap aangekom as ’n jong Skotse predikant om te arbei onder die Hollandsprekende bevolking aan die Kaap. Op pad na die Kaap het agt maande in Utrecht, Nederlands deurgebring, waar hy Nederlands geleer het. Daar was altesaam 25 predikante van die Skotse Presbiteriaanse Kerk wat van 1818 tot 1836 en weer van 1862 tot 1867 na Suid-Afrika gekom het, aanvanklik om die tekort aan predikante in die Nederduitse Gereformeerde Kerk te help aanvul en veral om die koloniale regering se verengelsingsbeleid stukrag te gee, maar later om die sogenaamde liberale neigings onder predikante wat in Nederland opgelei is, teë te werk. In De Kerkbode van 7 Junie 1922 lees ons: “Ds. Murray is in één gezelschap uitgekomen met wijle Ds. Alexander Smith, van Uitenhage, de onderwijzers William Robertson (later Di. Robertson, predikant van Swellendam) en James Rose Innes (later Superintendent van Onderwijs van de Kaapkolonie). Zij werden uitgebracht door Dr. George Thom, toen predikant van Caledon, die door Lord Charles Somerset naar Schotland gezonden was, om predikanten en onderwijzers voor Zuid-Afrika te gaan zoeken. Het heet, dat genoemde Goeverneur niet juist de eenvoudige en reine bedoeling had om de Hollandssprekende bevolking verstandelik, zedelik en godsdienstig te bevoordelen, maar dat hij daarbij ook, misschien vooral ’t doel voor ogen had, om ze ten gunste van de Engelse taal te beinvloeden en also ’t wegsterven van Hollands ten gunste van Engels te bevorderen”.
Van die predikante, “gentleman of excellent character, of good talents and of known loyal principles” wat na die Kaap gekom het was, onder andere, Colin Fraser, George Morgan, Henry Sutherland, James Edgar, William Robertson. Van hierdie predikante sou Andrew Murray en sy gesin sekerlik die grootste invloed op die kerklike terrein uitoefen. Vyf van sy seuns sou predikante in die NG Kerk word en drie van sy dogters sou met NG predikante trou. Hierdie kinders en kleinkinders sou op vele terreine van die kerk en sy aktiwiteite betrokke raak. Uit sy nageslag kom daar talle predikante, sendelinge en sending-onderwysers. Die sub-titel “Gestuurdes van God” wys dus op die lede van hierdie familie wat as gestuurdes na en in Afrika die Evangelie verkondig het.
Met die oog op die 200-jarige jubileumviering ter herdenking van die aankoms van die Murray-familie in Suid-Afrika word hierdie werk saamgestel uit die argivale bronne tot ons beskikking. Dit is ’n samestelling van In Memoriam-berigte en huldigingsbydraes in kerklike tydskrifte oor die betrokke individue. Die doel van die publikasie is dan om lig te werp op die werk van sy nageslag tot by die vierde geslag. Sy nageslag word hier volledig gelys tot by sy kleinkinders, daarna word slegs die predikant-agterkleinseuns gelys. Die skoonkinders wat ook betrokke was, as deel van die uitgebreide familie word derhalwe ook bespreek.
Die hoop word uitgespreek dat hierdie werk vir die leser ’n blik sal gee oor hoe een familie op soveel terreine betrokke was en ’n onuitwisbare merk op die samelewing gemaak het.