
Ons kyk na die donkiemaan
Jeanne Henning Els
Jeanne Henning Els glo dat ons lewe in stories vervat is. Die lewe is ʼn dagboek waarin ons meen om een storie te skryf, maar uiteindelik staan daar ʼn totaal ander een. Die rede is omdat die spektrum van die lewe die arena is waar mense hul lewe uitleef. Van hartseer en swaarkry en alleenwees tot gulle blydskap en ongekende voorspoed en warm samesyn.
In Ons kyk na die donkiemaan versprei Jeanne haar stories oor nege breë kategorieë. Sy vertel van oomblikke in die lewe wat nesmaak in mense se lewe, van gedagtes aan gister, oor weë van weelde en van mense rondom ons.
Daar is niemand wat jy nie sou kon liefkry as jy hul storie sou ken nie, glo sy. In die gewone lewe besef ons skaars dat ons baie meer ontvang as wat ons gee en dat dit net deur dankbaarheid is dat die lewe ryk word.
ʼn Unieke deel van Ons kyk na die donkiemaan is die elf onderhoude wat sy met kunstenaars, ʼn hartchirurg, natuurliefhebbers, sakemanne en ʼn humoris gevoer het.
Ons leef in ʼn veelkleurige wêreld en Ons kyk na die donkiemaan open vir die leser ʼn venster op daardie wêreld.